Dit is ook reeds elektronies beskikbaar op Amazon Kindle.
Tom Yssel
was senior veldwagter op die Nwanetzi-buitepos naby die Mosambiekse grens in
die vroeë 90’s. Die onwettige handel in ivoor en renosterhoring het stropery
laat eskaleer tot die vlak van georganiseerde misdaad.
Tom was
verloof aan sy ou skoolkys en hy was ‘n gelukkige man, tevrede met sy lewe.
Maar toe kom
Linda Crawford, die nuwe prokureur in Nelspruit, soos ‘n dief in die nag in sy
lewe ingesweef op die wieke van lemoenbloeisels en mooi bene.
Teen die
agtergrond van hierdie eskalerende liefdesdriehoek is Tom en sy kollegas
gewikkel in ‘n bloedige stryd met die stropers en die sindikaat.
Tom het meer
respek vir die wette van die natuur as diè van mense. Hy is ‘n reguit, harde
man met ‘n byna obsessiewe liefde vir die natuur.
Karma van
ivoor is ‘n aksiebelaaide liefdesroman waarin die leser ‘n kykie gegee word van
wat agter die skerms aangaan – ‘n kykie na die werklikhede, die trane en die
vreugde van natuurbewaring. Die hoofkarakter in die boek is geskoei op die van
Tom Yssel, my vriend en mentor in die wildernis. Hy was vir meer as 20 jaar
senior veldwagter in die Kruger Nasionale Park. Alhoewel die verhaal fiksie is,
is baie van die natuurtonele gebaseer op ware observasies en ondervindinge.