Tuesday 7 August 2018

Dankie vir nog 'n lewe. (Weer!)




Dankie
Op Saterdag 12 Mei was ek teen middeldag besig met ‘n boekpromosie by Exclusive Books in die Llanga Mall in Nelspruit. Net na vyf dieselfde dag is ek in ‘n koma opgeneem in die Intensiewe Sorgeenheid in Pretoria se Kloofhospitaal. Op die oog af het dit na ‘n beroerte gelyk, maar die briljante internis het dit spoedig gediagnoseer as Respiratoriese Nood sindroom, oftewel die RD virus. My kanse op oorlewing is geskat op 15% mits daar geen ander komplikasies sou intree nie.
Van meet af aan het elke denkbare komplikasie sonder ophou ingetree – beide longe het platgeval, etlike orgaanstelsels het begin faal, drie nood-tracheostomies is gedoen, bloedvate in die lugweg het geruptuur en dit was net een krisis na die ander vir weke lank. Weens my komateuse toestand het dit bykans twee maande geduur voor die omvang van die wonderwerk tot my begin deurdring het: by twee geleenthede het die bekwame mense wat vir my lewe geveg het, besef dat hulle besig is om die stryd te verloor, en ons kinders laat kom van die Kaap en Natal om te kom groet. En elke keer het my Skepper Hom ontferm en ingegryp.
Nodeloos om te sê, almal het deurgaans met onwrikbaare geloof gebid, ten spyte van die wanhoop en trane. En ek praat nie net van my gesin, familie en vriende nie – ek praat van ALMAL. Nie net hierdie gemeente nie; die hele dorp, mense van oral, selfs (het ek later uitgevind) mense wat ek gladnie eers ken nie. Ek het geen benul waar al die liefde en welwillendheid vandaan gekom het nie – ou kennisse baie ver uit my verlede, mense waarvan ek in my selfsug en eiewaan lankal vergeet het. Alle eer aan God vir hierdie wonderwerk, en innige dank dat Hy al julle en ons gebede gehoor het.
Dit was ‘n wonderlike voorreg om weer te kon leer om self asem te haal, te loop, en kommunikeer. Die son te sien, die see, die groen van die komende lente… Om weer Jasmyn te kan ruik… Moenie dit ooit as vanselfsprekend aanvaar nie – waardeer elke oomblik daarvan. Wanneer dit verby is, is dit verby. Vir ewig is ‘n lang, lang tyd - dis nie aldag dat mens ‘n kyk-weer kry nie.
Wie nie in wondere glo nie, is geen realis nie.
My innige dank aan God, en elkeen van julle. Om te lewe is soveel meer as om net asem te haal. Moenie ‘n oomblik daarvan mors nie. Weet waar jou heil vandaan kom, en moenie nalaat om dankie te sê nie.
                                                                                                                                Leon Marè