Dankie
Op Saterdag 12 Mei was ek teen middeldag besig met ‘n
boekpromosie by Exclusive Books in die Llanga Mall in Nelspruit. Net na vyf
dieselfde dag is ek in ‘n koma opgeneem in die Intensiewe Sorgeenheid in
Pretoria se Kloofhospitaal. Op die oog af het dit na ‘n beroerte gelyk, maar
die briljante internis het dit spoedig gediagnoseer as Respiratoriese Nood
sindroom, oftewel die RD virus. My kanse op oorlewing is geskat op 15% mits
daar geen ander komplikasies sou intree nie.
Van meet af aan het elke denkbare komplikasie sonder ophou
ingetree – beide longe het platgeval, etlike orgaanstelsels het begin faal,
drie nood-tracheostomies is gedoen, bloedvate in die lugweg het geruptuur en
dit was net een krisis na die ander vir weke lank. Weens my komateuse toestand
het dit bykans twee maande geduur voor die omvang van die wonderwerk tot my
begin deurdring het: by twee geleenthede het die bekwame mense wat vir my lewe
geveg het, besef dat hulle besig is om die stryd te verloor, en ons kinders
laat kom van die Kaap en Natal om te kom groet. En elke keer het my Skepper Hom
ontferm en ingegryp.
Nodeloos om te sê, almal het deurgaans met onwrikbaare
geloof gebid, ten spyte van die wanhoop en trane. En ek praat nie net van my
gesin, familie en vriende nie – ek praat van ALMAL. Nie net hierdie gemeente
nie; die hele dorp, mense van oral, selfs (het ek later uitgevind) mense wat ek
gladnie eers ken nie. Ek het geen benul waar al die liefde en welwillendheid
vandaan gekom het nie – ou kennisse baie ver uit my verlede, mense waarvan ek
in my selfsug en eiewaan lankal vergeet het. Alle eer aan God vir hierdie
wonderwerk, en innige dank dat Hy al julle en ons gebede gehoor het.
Dit was ‘n wonderlike voorreg om weer te kon leer om self
asem te haal, te loop, en kommunikeer. Die son te sien, die see, die groen van
die komende lente… Om weer Jasmyn te kan ruik… Moenie dit ooit as
vanselfsprekend aanvaar nie – waardeer elke oomblik daarvan. Wanneer dit verby
is, is dit verby. Vir ewig is ‘n lang, lang tyd - dis nie aldag dat mens ‘n
kyk-weer kry nie.
Wie nie in wondere glo nie, is geen realis nie.
My innige dank aan God, en elkeen van julle. Om te lewe is
soveel meer as om net asem te haal. Moenie ‘n oomblik daarvan mors nie. Weet
waar jou heil vandaan kom, en moenie nalaat om dankie te sê nie.
Leon
Marè
No comments:
Post a Comment