Thursday 15 March 2018

My eerste Afrikaanse boek - op papier

Alhoewel Karma van ivoor eers in April/Mei amptelik vrygestel word (boekwinkels), is dit reeds in boekvorm op die Weskus beskikbaar by Buffelsfontein Natuurreservaat en by Yzerfomtein Spar.

Dit is ook reeds elektronies beskikbaar op Amazon Kindle.






Tom Yssel was senior veldwagter op die Nwanetzi-buitepos naby die Mosambiekse grens in die vroeë 90’s. Die onwettige handel in ivoor en renosterhoring het stropery laat eskaleer tot die vlak van georganiseerde misdaad.

Tom was verloof aan sy ou skoolkys en hy was ‘n gelukkige man, tevrede met sy lewe.

Maar toe kom Linda Crawford, die nuwe prokureur in Nelspruit, soos ‘n dief in die nag in sy lewe ingesweef op die wieke van lemoenbloeisels en mooi bene.

Teen die agtergrond van hierdie eskalerende liefdesdriehoek is Tom en sy kollegas gewikkel in ‘n bloedige stryd met die stropers en die sindikaat.

Tom het meer respek vir die wette van die natuur as diè van mense. Hy is ‘n reguit, harde man met ‘n byna obsessiewe liefde vir die natuur.

Karma van ivoor is ‘n aksiebelaaide liefdesroman waarin die leser ‘n kykie gegee word van wat agter die skerms aangaan – ‘n kykie na die werklikhede, die trane en die vreugde van natuurbewaring. Die hoofkarakter in die boek is geskoei op die van Tom Yssel, my vriend en mentor in die wildernis. Hy was vir meer as 20 jaar senior veldwagter in die Kruger Nasionale Park. Alhoewel die verhaal fiksie is, is baie van die natuurtonele gebaseer op ware observasies en ondervindinge.

No comments:

Post a Comment